Verleë, maar nie radeloos nie
“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie, ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie, ons word vervolg, maar nie deur GOD verlaat nie.”
2 Kor. 4:8-9
Somtyds word ons gang van ons lewe wreed versteur en probleme en krisisse en moeilikhede duik onverwags, ploteling of skielik uit die niet op. Nie een van ons is in die lewe gevrywaar van moeilikheid, probleme of krisisse nie.
Nooit belowe Christus dat die Christen se lewensreis altyd op ‘n spieëlgladde see sal wees nie. ‘n Skip wat in die hawe lê en aan sy ankertoue bly, is veilig, maar dit is nie waarvoor skepe gemaak is nie, of word nie. Hulle moet uit op die magtige oseaan om die oop see te bevaar, storms en gevare te trotseer en ‘n lading te gaan aflaai.
Dit is wanneer ons in die lewe uitgaan dat ons geroep word om moeilikhede met moed en geloof aan te durf. As ons ons probleme positief benader, kan GOD hulle selfs gebruik om ons te motiveer om HOM meer effektief te dien en ons medemens met deernis te benader.
Wanneer u deur ‘n moeilike tydperk gaan, moenie onder u probleme knak of dubbelvou nie, wag in stilte op die Here en bepaal biddend of Hy nie vir u iets wil leer nie.
Moenie toelaat dat jou probleme jou lewe geheel en al oorheers nie. Moenie paniekerig raak nie – hóé groot u ontsteltenis ook mag wees.
God is groter as enige probleem wat u mag ervaar en Hy is magtig om dit ten beste te hanteer. Elke probleem het sy eie strategie om u gees aan te val. Dit mag op ‘n dramatiese wyse uit die niet op u lewe afkom, of dit mag stilweg en subtiel u gedagtes en lewensbenadering binnesluip.
Sonder ‘n lewende geloof wat u in staat stel om te triomfeer oor u probleme, sal die pad onmoontlik word. Geloof in die getrouheid van God en in die wete dat Hy ‘n doel met u lewe het, sal u toerus om die toekoms, dag, week, maand, jaar of toekoms met vertroue en moed tegemoet te gaan.
