Die vrees en trane toe God my tot die bediening roep
Ds Gragory Jacobs dink terug aan die dag toe hy as jong leraar geroep is om die VGK gemeente in Humansdorp te lei.
As jong man word ek tot die bediening geroep.
Entoesiasties, hoopvol, vol van sekerheid… Met die beroep na my eerste gemeente in 2019, in Humansdorp, so ver van dit wat bekend is, was daar maar ‘n vraagteken. Dit word uitgewis deur die feit dat God reeds als voorberei en geweet het.
Maar soos die tyd nader kom, word die onsekerheid oor die vreemde ook ‘n werklikheid. Ek dink dis maar deel van die warboel van emosies wat ons as mens ervaar.
Saterdag 2 Februarie 2019, vanaf opstaan tot gaan slaap, was daar so baie. ‘n Oomblik wat ek so lank na uitgesien het, is hier. Die werklikheid dat ek in die vreemde bevestig word, is hier. Ophou huil, kon ek nie. Soveel dankbaarheid.

‘n Moeilike pad
Die pad waarlangs ek kom, flits by my verby. ‘n Lieflike pad, maar soveel moeilike tye wat daarmee gepaard gaan. Mense sien die trane, nat oë, stil swye, maar hulle verstaan nie die pad waarlangs ek kom nie.
Trane van blydskap. Trane van waardering. Trane van hartseer, pyn en lyding oor dit wat verby is (They see my glory, but don’t know my story). Als het so onwerlik gevoel, tog was dit bekragtig deur almal se teenwoordigheid.
Die hoogte punt van alles was toe ek die pastorie binne gaan, en almal staan die yard vol. Baie wat van ver af gekom het en ‘n pad met my geloop het oor die jare heen.
In my gemoed worstel ek of dit is waar ek moet wees. Na die sekerheid kom daar nog onsekerheid. Omring deur almal se liefde is ek weer hoopvol, entoesiasties, en vol sekerheid. My hart loop oor van dankbaarheid.
Elke traan wat ek gestort het getuig van dit. Dit was inderdaad ‘n groot oomblik, te oorweldigend vir my. Van die intrap tot uitspreek van seën, was ek oorrompel met emosies, oomblikke van trane, snik-oomblikke…
Maar méér as dit is dit fantasies om in diens van die Here te staan.

Om ‘n gemeente te lei
My eerste gemeente is VGK Humansdorp.
Ek was betrokke by baie, maar om jou eie gemeente te hê is soveel anders. Ek het nie geweet wat om te doen of te verwag nie. Moenie eers praat van waar om te begin nie! Ek voel baie dom, asof ek nog nooit by ‘n gemeente gewerk het nie.
Asof ek nooit deel van ‘n gemeente was nie.
Na almal weg is, was daar soveel verlange en kon ek absoluut niks uitrig nie. Alleen, eensaam, en lekker huil. My verloofde was altyd in my hart; ek het haar die meeste gemis en verlang. As ek met haar praat, bars ek uit van trane, veral toe sy vertel hoe sy gehuil het toe hulle ry.
Die Dinsdag spring ek weg en ervaar al die vreugde, liefde, omgee en lekkerheid van die plattelandse mense. Mense wat nog alles in die lewe waardeer. Dit het my ‘n paar besoeke op die eerste dag geneem om tuis te voel. Ek werk lekker en almal is netso passievol soos ek. Ek is opgewonde vir ‘n rooskleurige toekoms saam met lieflike mense in die bediening.
Ek is hoopvol, entoesiasties, en vol sekerheid want God is aan my kant.
